Ma Skiet Treine - Printable Version +- South Africa Info Forums (https://globalbuzz-sa.com/forums) +-- Forum: Your Resources (https://globalbuzz-sa.com/forums/Forum-Your-Resources) +--- Forum: Praat Afrikaans (https://globalbuzz-sa.com/forums/Forum-Praat-Afrikaans) +--- Thread: Ma Skiet Treine (/Thread-Ma-Skiet-Treine) |
Ma Skiet Treine - hantam - 14-11-2008 “What are you doing Mrs. Van?†vra Kevin, die bure oor die straat se seun. Hy kom vinnig oor die straat gedraf waar Ma met die geweer in die hand, vasbeslote korrel vat… Sy trek die skoot af en die koeël klap dof – ‘n kolskoot! Sy kyk op en glimlag; vat weer korrel met die een oog toe. Nog ‘n skoot met ‘n dowwe klap. Ma was nog nooit ‘n slegte skut nie. Kevin staan nou langs haar. “May I also have a shot?†vra hy heel entoesiasties. Ma glimlag selftevrede en oorhandig die windbuks aan hom. Hy knak die loop grond toe, plaas ‘n klein lood koeëltjie daarin, vat korrel; die skoot klap….. “You may shoot them all and when you’re done, bring the gun to me†sê Ma en stap huis toe. “Hey, thanks Mrs. Van!†sê Kevin en glimlag breed oor hierdie skyfskietgelukkie wat hom op so ‘n eentonige middag getref het. Hy lê weer aan - huiswerk so dood soos ... die skoot klap. Ma het gaan bad net ingeval die dik vrugtewurms op haar gespat het toe sy hulle so een vir een uit die boom geklits het. Seker gemaak hulle plof nie weer onverhoeds op haar wanneer sy groenboontjies oes uit Pa se groentetuin nie! Sy het nog nooit van wurms gehou nie! Ek onthou nog die keer toe ons Kaap toe getoer het in die skoolvakansie met Pa se jaarlikse verlof. Erens langs die pad het ons die regte piekniekboom gesoek om stil te hou en padkos te eet. Toe ons die regte koelteboom uiteindelik gevind het, het Pa die kar so ingetrek dat hy omtrent heeltemal in die koelte staan. Pa was altyd heilig op sy karre. Gesê jou kar en jou vrou leen jy nie uit nie. Nouja, toe Ma die deur so oopmaak en haar voete uitswaai grond toe, toe lê hulle daar uitgesprei soos ‘n mat vir die koninklike geselskap– sulke dik treine, soos sy hulle genoem het. Die deur het toegeklap terwyl Ma haar kraag sorgvuldig toegevou het om haar nek en sê, “Kinders, julle moet maar toehou want die goed val orals in!†Sy het geweier om weer uit te klim en van krummelrige brood in die kar, wou Pa niks weet nie. Toe het ons maar weer verder gery en ‘n ander wurmlose boom gaan soek. Gelukkig was dit nie Mopanietyd toe Ma-hulle vir ons in Namibië kom kuier het nie. Ma sou die mooi dik sliwer-groen treine nooit oorleef het in die ou doringboom by die swembad nie. Dié word geëet ook – mens het hulle so bruin uitgedroog, per vuil plastieksakkie gekoop by die padstalletjies oppad Ovamboland toe – ‘n lekkerny. Vriend Hennie, ‘n boerseun daar uit die Vrystaat het dit altyd so smaaklik geëet soos die Kapenaars bokkems en die Transvalers biltong eet. Maar so avontuurlik is ek nie – voel soos Ma – sal eerder skyfskiet. Ek het seker ook nog nie my verstand gehad toe ons in ons sywurmfase op laerskool, uit pure snaaksigheid, die sagte koue lywe op ons tonge gehou het nie!! Ma het ook altyd die treine gesoek totdat sy hulle wegkruipplekke gekry het en hulle dan van kant gemaak. Oornag het hulle altyd haar lelies stil-stil gaaterig verwoes. “Verpestelike goed†het sy hulle genoem, “verwoes alles wat mooi is!†Ek moes vandag aan Ma dink toe ek die verpestelike goed uit die grond gegrawe het – het al my pienk “Flytige Liesjes†wat my hele, kort somer so vervrolik het, oornag laat kwyn, geel word met sulke slap piek koppies. Wurms! Verwoes stil-stil, onderlangs alles wat mooi is. Kon nooit verstaan hoekom die Graad 1 tekening van ‘A is vir appel’ - dié mooi, rooi appel dikwels ‘n wurm het wat halflyf uithang en vrolik lag van lekkerkry nie. Seker omdat ons almal maar ‘n wurm het wat iewers wegkruip en sap uitsuig. Daai A-is-vir-appelwurm moet doodgeskiet word voordat hy kan glimlag van lekkerkry. Op hierdie stadium van my lewe is ek besig om korrel te vat en treine in my lewe te skiet wat stil-stil onderlangs alles wat mooi is, verwoes en dikwels my koppie laat hang soos my Flytige Liesjes. Dis treine van negatiwiteit, kritiek, teleurstelling, onrealistiese verwagtings, moegheid – alles wat my koppie depressief laat hang. Soek hulle nie meer op my tong of in my lewe soos sywurms nie – al maak hulle ook mooi syhartjies. Dis nes Ma gesê het, hulle val wragtig orals in. Mens moet hulle doodskiet. Ma het geweet. Nou weet ek ook terwyl ek besig is om korrel te vat! |