Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Vlokkies
#1
Finaal afskeidneem was ver
tot die nuus van Vlokkies, die Sondagmôre in Februarie…

Ons huil was oor eie gemis; die skaduwee wat altyd saam met ons was, soms groter, soms kleiner, maar altyd daar. Nou is ons broer weg. Sy naam sal verdwyn uit ons pers adresboekie en sal nooit weer op ons lysie van kuiers in Suid-Afrika wees nie.

Dis met hartseer dat ek die laaste twee briefies van André lees – oor die ongeluk met die ou motor en hoe hy die Here vertrou het vir ‘n nuwe een. En dis dié nuwe een wat hom gebring het tot die noodlottige aand in Desember toe hy geskiet is terwyl hy ‘n pizza gaan aflewer het.

Die maer, rankerige gestalte met die stywebeen-stappie het in Windoek, Namibië deel van die familie geword toe hy ‘n kursus by die sending kom doen het. In my opgroei het ek altyd geweet van ‘n André want ons pa’s het vir SAPPI gewerk. Maar ons het mekaar toe nie geken nie.

Ons het hom leer ken as ernstig en opreg in sy verhouding met die Here – ‘n eenvoudige geloof van swart en wit in ‘n God wat wonderwerke kan doen - as Hy so sê, is dit so en so glo mens dan. Selfs die tyd in die hospitaal waar hy bykans die meeste van die tyd in die Intensiewe Sorg Eenheid was omdat hy nie self kon asemhaal nie (‘n groot deel van sy longe was beskadig), nie kon praat nie, slegs beduie en skryf, verlam was, het hy nog steeds geglo in die God van wonderwerke – hy sal weer kan loop. Vir ons was dit swaarder om te dink en te probeer besin oor hoe nou verder, wat van,
wie gaan sorg …?

Vlokkies was baie lief vir die woestynland wat in ons almal se harte ingewaai het met sy sand en see, pienk en blou sonsondergange. Jare daarna, nadat hy weer in Suid-Afrika gaan woon het, het hy nog vakansies in Namibië en spesifiek Windhoek, deurgebring. Hy het eenvoudig gelewe maar herinneringe gebou deur al die buurlande van Suid-Afrika te besoek in sy vakansies. Ons het gereeld sy briewe of poskaarte ontvang waarin hy dan vertel het van al sy ervarings. (In sy woorde op ‘n poskaart van Windhoek wat ons ontvang het net voor Kersfees in 2002: ‘Soos julle op die poskaart kan sien, geniet ek weer ‘n vakansie in die mooi wêreld waar ons mekaar ontmoet het, nl. Windhoek …’) Deur André se briefies en poskaarte het ons ook altyd geweet van die verwoestende winterbrande wat ‘n swart pad loop deur die vaal, geel van Gauteng se velde, wanneer Pretoria sy pers Jakarandajas aanhet teen die skraal lentekoue en die seisoen van eksamen aankondig of van sy besoek aan familie in die Kaap.

Hy het ook sy moeilike tye gehad waarin hy nie altyd kon verstaan of moeilik vrede gemaak het met keuses van die familie. Soms kon hy daaroor praat en het ons gesien dis onverstaanbaar moeilik.

Hy het ‘n paar vriende gehad met wie hy altyd kontak gehou het en sy handgeskrewe briewe, later fakse en meer onlangs, e-pos briewe het altyd gekom rondom verjaarsdae of herdenkings. Nooit een oorgeslaan nie! In Vlokkies het ons ‘n vriend vir altyd gehad – getrouer as die spreekwoordelike skaaphond, ‘n broer. Gasvryheid was ook een van sy eienskappe en onthou ons nog toe hy en Dawie in Windhoek huis gedeel het en gaste getrakteer het op tee en tuisgemaakte botterbroodjies met konfyt en room. So het die koppies ook reggestaan vir ‘n teetjie en koekie toe ons later jare by hom langs gegaan het in Pretoria.

In Namibië kon hy ook sy liefde vir Duits uitleef in hierdie gemeenskap met sy sterk Duitse invloed. Daar het hy toe ook by ‘n Duitse kerk aangesluit en later in Pretoria by die Stadtmission. Wanneer ‘n mens hom bel en hy nie tuis is nie, moes mens lank wag om ‘n boodskap te laat want die antwoordmasjienboodskap was in Afrikaans, Engels en Duits.


‘n Toegewaaide pad deur die duine van ons jare in Windhoek, sal ons verbintenis met Vlokkies word. Ek weet ons sal nie vergeet hoe mooi daardie pad vir ons was en waarheen dit gelei het nie. Op ‘n mooi dag, verby die maanlandskap en ‘n paar uur se ry verder het ons die blinkblou van die see naby Swakopmund sien skitter teen die warm geel-bruin van die Namib woestyn.
Só was dit met die pad wat Vlokkies geloop het – al het daardie duinepad skynbaar toegewaai met sy dood, het dit ons nader gebring aan ‘n lewe van herinnering, gasvryheid, vriendskap en ‘n eenvoudige geloof in die Bron van die lewe.

Hy is nou by die Vader vir wie hy so lief was – nooit nie meer alleen.

1961 – 2008
Reply


Messages In This Thread
Vlokkies - by hantam - 14-11-2008, 12:46 PM

Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)