Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Doll se Lagpoppie
#1
Sy het hom by Sarah van Gibraltar gekry. “I just couldn’t resist buying her one because she always laughs! ”
Skeelogies van die lag en vreeslike wit tande – amper ‘n grynslag van lekkerlag is dié geel lagpoppie.
As jy hom op die magie druk, lag hy - ‘n histeriese lag so uit die poppiemaag wat eers vreemd op die oor is en dan herken word as ‘n lekkerlag en dan lag jy saam.

Ons Dolla is ook so – vreeslik gekomplisseerd om haar taal te verstaan maar totaal ongekomplisseerd in haar menswees. Liefde en kos is al wat nodig is om haar te laat lag en almal lag saam.
Sy lag vir ons ernstige koddigheid – wanneer ek my vinger in die deur vasknyp en hom skud om die pyn te verlig en rympies opsê; wanneer ek struikel en lug gryp om balans en waardigheid te behou; wanneer ek die onverwagse suur van ‘n pruim met ‘n boog uitspoeg; wanneer ek my uithangtong laaf na ‘n gulsige sluk warm koffie en die gesmelte kaas ‘n draad hang uit haar mond...
As jy haar druk, lag sy.

Wens ek kan myself druk om te lag in my eie koddige kwaadheid van tong uitsteek in magteloosheid.
Wens ek kan sommige Belge druk in die ongeduldigheid van ‘n file wanneer daar geirriteerd op ‘n toeter gelê word en met snaakse handgebare die lug roer.
Lag is nie meer soos ‘n warrelwind oor die stofvlakte wat alles dansend in sy stroom meeneem in ‘n wilde polka nie - rok en hoed laggend vasgryp om skaamte te bedek.
Lag het stadig en swaar geraak – ‘n vreemdheid van die verkeerde kant van die wêreld.
As ons gedruk word, spoeg ons, blaas ons, swets ons, slaan ons, skiet ons.
Seminare word gereël om ons weer aan die lag te kry - vir genesing van siel en liggaam. Ons drink happy-pilletjies as werk en verhoudings te swaar en depressief raak, as die partytjie nie opwindend en die lewe nie sosiaal genoeg is nie.
Die lewe is nie ‘n lagpoppie nie.

Al is die lewe hoe swaar en ongemaklik in ‘n rugstut wat 24/7 gedra moet word – ingetrek soos die buustelyfies van ouds met konstante hitteuitslag soos by bababoudjies, kan Dolla nog steeds oopmond en vry lag – wanneer die voordeurklokkie besoekers aankondig; wanneer trappe klim “uitgaan” sê; die hare van ‘n aanskuurkat effense onsekerheid bring. Dolla vergeet vinnig van netnou se “seerg” van die stut wat knyp en lag as die koekiepakkie se papiere kraak en sy weet sy kan saam eet.

Wanneer die lewe en omstandighede my druk, raak ek negatief krities, verdedigend, aanvallend - selfs depressief en is daar geen lag meer nie. Miskien moet ek weer soos ‘n kind word om die lagpoppies raak te sien - nie duur nie, nie groot nie, maar herkenbaar om lekker saam te lag wanneer jy hulle druk.
Reply


Possibly Related Threads...
Thread Author Replies Views Last Post
  Sommer net Doll hantam 0 3,208 Less than 1 minute ago
Last Post:

Forum Jump:


Users browsing this thread: 2 Guest(s)