Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Noorsdoring blom geel in die Oos-Kaap
#1
Beeld-deurloop

Cecille Cilliers

:daisy:
Ek onthou dit as 'n ongenaakbare streek, die ene klip en kaktus tussen Jansenville en Port Elizabeth. Hierdie see van geel het ek nie verwag nie.
In plate van geel op geel blom die noorsdoring, blink goud waar die lig dit vang.

Hy blom net as dit baie droog is, en hier het dit baie lank gelede regtig goed gereën.

Só vertel Pieter van Zyl, 'n fris angoraboer intiem bekend met sy wêreld. Hy is ons gids op 'n wildplaas naby die Darlingtondam, binne die grense van die groter Addopark. Die diere eet dit graag, sê hy, en ál die diere gebruik dit, veral wanneer dit blom. Mettertyd word die blomme vruggies, vol protiëne, met meer voedingswaarde per gewig as mielies.

Die diere waarna hy verwys, is die oorspronklike diere van die streek, hulle wat ná dekades se boer en jag nog hier oorgebly het - springbok en koedoe, duiker en steenbok. Maar hy praat ook van die ander, dié wat in samewerking met Nasionale Parke stadig weer die streek ingebring word. Ons sien die eerste swartwildebees en Kaapse buffel, sebra en swart renoster. Die witte aard nie hier nie.

Op soek na 'n blik op die swart renosters neem Pieter ons in 'n viertrek die berg uit, en beduie trots dat hierdie hele streek eens 'n reuse-kom vol water was, 'n binnelandse meer. Op 'n dag het die water deurgebreek en 'n ander landskap tot stand laat kom. Die breuk in die koppe is duidelik sigbaar.
Kwalik 'n reuse-binnelandse meer, maar nogtans 'n dam van gehalte, is die Darlingtondam wat in 1918 in die vallei gebou is. Die damwal is slegs 'n kilometer lank, maar dit hou 'n yslike spul water teë.

Die water kom van die Gariepdam deur die Vis- en Schoemansrivier, om van hier met 'n stelsel van kanale die sitrusboorde van die Kirkwood-omgewing en verder van water te voorsien.

Darlington, sê-vra ek. Hy was seker die betrokke minister in 1918?
Nee, sê Pieter. Met die instroom van die water is 'n klein dorpie, Darlington, heeltemal oorspoel. Uit 'n boot kan mens onder die water nog die rüines sien . . .
Pieter se oog is goed. Hy hou stil om vir ons 'n groot skerpioen te wys, en 'n boomslang wat blinkgroen regop staan om sy omgewing te bespied. Hy wys vir ons die gompou se nes, sommer so saamgeskrop in die oop veld. Twee groot vaalgrys eiers lê oop in die nes. Die wyfie sit nie bedags op die eiers nie, die son is hitte genoeg.

Uit die bar grond trek Pieter 'n verskrompelde plantjie. Brakbos, sê hy. Wanneer dit reën, kom dit oral op, stoel, en word stapelvoedsel vir die diere. Vol voedingswaarde.

Brakbos kan ek verstaan, sê ek, uit hierdie brak aarde, maar hoekom noorsdoring?

Die wit sap brand verskriklik, sê Pieter, maar dis seker nie 'n rede vir die naam nie. Hy lag. Jy moet dit maar in die woordeboek gaan naslaan . . .
Ek het toe, hier waar ek weer by my lessenaar sit. Blouerige kaktussoort met doringrige stekels, lees ek in HAT, sappig en goed bestand teen droogte.
Van nors, miskien, oor die branderige melk, of dalk van noords, synde in die noorde?

Ek sukkel om te konsentreer - tussen my en die woordeboek bly 'n heldergeel beeld inskuif: die noorsdoring blóm in die Oos- Kaap.

:daisy:


Reply


Possibly Related Threads...
Thread Author Replies Views Last Post
  Daar is voels in die Kaap - by rioolplase! Pronkertjie 4 4,749 12-03-2005, 03:18 PM
Last Post: Pronkertjie

Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)