24-02-2005, 06:32 AM
Daar ÃÂs voëls in die Kaap - by rioolplase!
Cecile Cilliers
Ek bly lekker in die Kaap, al waai die wind en al is dit bitter warm in die somer en al is dit op die oomblik verskriklik droog.
Maar ek mis die voëls. Ek mis vroegoggend se voëlgesang, die tip-tol se getjommel, die kuifkophoutkapper se wekkertjie en die rooikop se tweemansfluit. Hier is daar nie bome nie - watter boom kan regop staan teen hierdie wind? - en daarom is die voëls min. Ek tel in my omgewing miskien vyf verskillende soorte; in Linden se groot tuin was daar minstens tien keer soveel.
Daarom het ek my aangesluit by 'n voëlklub en Sondagoggend was dit ons eerste uitstappie - na Paarl se voëlreservaat. Wat toe 'n rioolplaas was, die werkinge waarvan ek liewers nie sal beskryf nie.
Maar naas daardie ongure damme (waarop daar meeue en eende dobber - voëls het g'n oordeel nie, 'n hoender is immers 'n dom ding), was daar koel bome langs helder water, groen gras, digte riete en baie voëls.
Die leier van ons bende was 'n fyngebeitelde jong man, rietskraal en taai van die buitelewe en op 'n manier twee-dimensioneel, soos 'n tarentaal twee-dimensioneel voorkom.
Sy voëlkennis is verstommend, en sy vinnige oog 'n belewenis. 'n Trop voëls vlieg hoog verby, en die kenners (en daar was baie van hulle), kyk op en "muisvoëls", sê hulle.
Maar hy kyk verkyker en al op: rooiwangmuisvoël, verklaar hy beslis.
Hier is alles natuurlik Engels, en hy sê dus eintlik red-faced mousebird; ek moet vinnig vertaal om by te hou. En tot my ergernis is hulle (wie's hulle? hoor ek my ma se stem, maar ek weet nie wie hulle is nie) besig om die voëlname te verander. 'n Dikkop, al die jare ook in Engels 'n dikkop, is nou 'n thick-knee - ek bid jou aan!
Die son was bloedig warm, maar in die voëlskuiltes, langs die water, was dit koel en stil. Almal sit rustig, verkyker voor die oë, maar wag ook soms vir uitsluitsel, veral ek. Want die watervoëls wat verbykom is vir my dikwels baie vreemd.
Ek sien vir die eerste keer 'n bloubekeend (Maccoa duck), 'n teeleend met sy pienk snawel (Cape teal), en die grootriethaan met sy lang rooi bek. Ek verwonder my aan die groot troppe witvlerksterretjies wat aan die bymekaarkom is, reg om te trek.
Hulle sal waarskynlik in Pole gaan broei, sê die een wat weet.
Slanghalsvoël, witborsduiker, rietduiker - hulle is almal daar langs en in die water, en terwyl ons kyk, wurg 'n rietduiker 'n groot vis al wriemelende af. (Ultimate sushi, lag die kok onder ons.) In die riete sit tot vier klein kuifkopvisvangers naby mekaar - bruin en blou juweeltjies teen die groen. Ek leer die kuifkopdobbertjie onderskei - hy hou sy kop met die kuifie so effe agteroor, weliswaar 'n veel kleiner weergawe, maar kompleet 'n gompou in die Kalahari!
Ek dwaal alleen af, kry 'n toegegroeide paadjie al langs die water, maar die water onsigbaar agter die digte riet. Daar is min om te sien - 'n tarentaal of twee, en onverwags, 'n wildemakou op pad water toe. Maar dis nie stil nie. 'n Golf van klank spoel deur die riete: ek kan weinig onderskei, ek het nog so baie om te leer, maar verlustig my in die klanke, skril, skerp, gedemp, en onmiskenbaar, die woem, woem van die bleshoenders.
Volgende maand gaan ons in Kirstenbosch roofvoëls kyk!