Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
'n Koppie boeretroos in China
#1
[COLOR="Purple"]

Soekie Wools (Die Beeld)

Swart student van Suid-Afrika wat by ons Chinese universiteit kom Chinees leer. Jy maak seker ’n grap!

Dit was my eerste reaksie toe my man, Fred, my van Peter vertel het.

Kort daarna het ek hom ontmoet. “Groot Peter”, soos die Chinese hom gedoop het, met spesiale verwysing na sy boepmagie wat na ’n paar maande hier aansienlik gekrimp het. Die naam het egter vasgesteek.

Peter is een van 15 Afrika-studente wat by die Chinese regering beurse ontvang het om aan een van die top-universiteite hier in Chendu (met sy 12 miljoen inwoners) in die suidweste van China te studeer.

Wat ’n wonder! Hier’s min Suid Afrikaners in ons stad van skrefiesogies. As ons mekaar dus raakloop, kuier ons soos ou vriende. En wanneer ons saam worstel aan die Chinese taal-struggle, word ons bloedbroers in die stryd.

Tydens die eerste ontmoeting kuier ons sommer dadelik ’n hond uit ’n bos. Sommer so op die universiteitstrappies, salig onbewus van al die verskrikte Westerlinge rondom ons, wat ook die “stryd met die taal” daagliks moet aanvoer.

Peter (35) met sy spierwit tan-de en wye, vriendelike glimlag en ek – vroulik, wit, lank (en nie meer so slank) in my vroeg-40’s wat so staan en kuier, was seker vreemd vir die mense om ons.

“Maar ek mis hom, die boerewors en die koffie!” laat val hy die Taal so tussen die Engels in.

En hy lag! ’n Dreunende skater wat jy tot wie-weet-waar kan hoor. “Hierdie ‘China-man’ se taal, eish! Hy’s darem wragtig vreeslik moeilik!”

Hy lag weer, en vertel my hoeveel ure hy swoeg en sweet oor die boeke, hoe hy die kers tot ounag laat brand en van die Chinese karakters waaroor hulle toets skryf.

Hy vertel van die keer toe hy wou suiker koop en die winkelassistent vir hom sop wou gee. Chinees is ’n toon-taal en net soos ons homofone in Afrikaans het, is Chinees deurtrek daarmee. Die verskil is net dat dit op verskillende tone uitgespreek word.

Die woord ‘tang’ is nie die impliment waarmee jy draad knip of vasdraai nie, maar kan sop of suiker beteken, afhangende van die toon wat jy gebruik.

Net daar sit ons en lag te lekker saam, want ek weet.

Ek stry die stryd nou byna drie jaar en sukkel steeds om sekere woorde reg uit te spreek. Lees is ’n riller vir ons arme nie-Chinese. As mens leer lees, lyk die Chinese simbole behoorlik soos insekte wat op ’n bladsy krioel. Dan praat ek nie eers van skryf nie!

Peter kom van Noordwes en het sy vrou en kinders vir vier jaar agtergelaat om ’n doktorale kursus te kom doen – in Chinees. Dit gaan swaar, want die eerste jaar slaap, eet en praat jy Chinees tot dit by jou ore uitkom.

Aan die einde van die vier jaar doen hy sy tesis in elektrisiteitsverskaffing. Dis deel van ’n uitgebreide navorsingsprojek, te midde van Suid-Afrika se elektrisiteitskrisis.

Tydens die universiteit se vermaaklikheidskonsert, waarby 25 verskillende lande verteenwoordig word, tree ek as een van die seremoniemeesters op en stel “Groot Peter” en die ander Afrikane se item met ’n letterlike en figuurlike bewende broek in my beste Chinees voor.

Peter lei hulle in ’n hartlike, geesdriftige “Shozoloza” sing-en-dans-item, met kenmerkende Afrika-ritme wat die gehoor spontaan laat saamdans.

Kort daarna nooi ons gesin Peter oor vir eg-Suid Afrikaanse pap-en-vleis en ons 15-jarige dogter maak ’n watertand sjeba-sous met tamaties en uie.

Ons kuier land en sand oor apartheid en ons grootwordjare in die ou Transvaal.

Peter vertel hy was ’n dosent aan ’n universiteit in Suid-Afrika en lig ons in oor verskillende terreine in die kommunikasieveld waarin ons seun moontlik sal kan studeer en werk.

So kuier ons in China oor ’n lekker koppie boeretroos. Wit en swart saam – vry van die swaard van apartheid.
[/COLOR]
Reply


Possibly Related Threads...
Thread Author Replies Views Last Post
  'n Mooi Koppie Tee hantam 0 4,768 Less than 1 minute ago
Last Post:

Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)