Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Na Nog Twee Jaar
#1
Dit was somer en ons het gaan kuier in Suid-Afrika!

Skaars aangeland, het ons hongerig ingeval met dik snye vars brood en die groen blik stroop (Lyle’s Golden Syrup), vleis, biltong en droëwors tot ons ronde gesigte een nag wakkergeskrik het van vleisnagmerries wat ons bloots ry!!! Toe volg beheersde broodjies en pa se tuisgemaakte konfyt; patats, lemoenpampoentjies en netjiese klein gebraaide worsies. Ons droom nog oor die skaapnek en pampoenkoekies en sal maar sien of ou “Halloween se pompoen” omgetoor kan word in pampoenkoekies in België. (Gelukkig tref ons nog die laaste strale van die somer in Europa met oorhangperskes en swart glippertjiedruiwe uit die bure se tuin.)

Die stof het ook nog nie mooi gaan lê oor al die belewenisse nie .....
Suid-Afrika ís Afrika.

Stof, swartgebrande winterveld, nuwe bustaxi’s wat steeds stop waar hulle wil en groot waarskuwingsborde “Don’t stop. Highjacking hot spot.”

“Witlokasies” met hoë uithoumure, lemmetjiesdraad en vriendelike sekuriteitswagte wat net so vinnig oprys as die plakkerskampe langs die snelweë

Aardse kreatiwiteit in die boubedryf tot by Laventelkreatiwiteit in Oliekolonie en Langpad Lavender Spray uit Ralie se Lavender Waenhuis Gallery op Naboomspruit, of néé, Modimole of is dit nou Mokgopong? Nee wat, weet nou nie meer met al die nuwe name nie! Selfs die gewilde Aardklopfees van Potchefstroom moet nou fees wees sonder die Afrikaanse klop – ai!

Son en stilte van die wye, groen Karoo.

Wonder oor name soos Vetmaakvlakte, Kinkelbos, Gannavlakte, en hoeToekoms lyk, of by Omkeer ook ‘n nuwe naam gaan kom en van Verkeerdevlei wat verkeerd gaan wees met ’n nuwe naam.

’n Plattelandse dorp wat op ’n Vrydagmôre kom stilstaan het by die graf van ’n jong polisieman; koelbloedig doodgeskiet. Een van die rowers is doodgeskiet met my vriendin se skoene nog aan die voete – pas die vorige week self kom haal by hulle op die plaas. Dat hulle nog lewend is, is ’n wonderwerk. Dis seker omdat hulle die ou Mercedes geneem het en nie die selfoon nie, want ‘n mens word mos doodgemaak vir ’n selfoon.....

Dieselfde ou tannie met die bakbene en sonversorgde vel bedel nog steeds by die verkeerslig in Zambezirylaan. Ook sy het grys geword en dra nog steeds nie Â’n hoed nie.

'n Tradisionele Afrikaanse familietroue met kruiwa, lanterns en tarentaalveer in Â’n lapa op die walle van die Olifantsrivier - taÂ’ Koeks se hoenderhaan, sjampanje, die bruidegom wat bietjie gehelp moet word en braaivleisvure.

Ma se wit boerbeskuit wat swaar raak in die soet koffie soggens vroeg wanneer kiewiete, sysies en horingbekke wakker word in die Makloppiebome van die Springbokvlakte.

Die land word familie wanneer oud en jonk saans regskuif vir die lief en leed van Sewende Laan – soos skindernuus in die familie – almal weet daarvan!

Ons snak nog oor die minister se opsie van, “dóén dan iets” oor daaglikse geweldadige moord, óf “gaan ander land toe” in die gesig van slagoffers se pynlike verlies. En skaars ’n paar weke daarna, ‘n voormalige minister van wet en orde se versoeningsdaad as Christen wat die voorblaaie tot in Engeland gehaal het – in die parlementsgeboue die voete gewas van ’n aardsvyand uit die toenmalige apartheidsregering !

Terug, voel ons soos die “Banana Express” op die Thalysspoor – verkeerd gerangeer want dis ingedruk, oortrokke, agterweë, laat en oorlaai. Ons is nog by die wye blou baai van Jeffreysbaai waar ons vars seevis, slap chips en gemmerbier geniet terwyl branderplankryers soort swart spikkels in die rustige waters hang en wag vir daai groot brander om hulle strand toe te bring.

En só kom ons ook terug Europa toe met nog net ’n onthoumandjie oor die arm, oordadig volgepak met lekkernye van bloedfamilie en vriendefamilie vir ’n sonnige piekniek, later wanneer die dae grys
word ......
Reply


Messages In This Thread
Na Nog Twee Jaar - by hantam - 23-09-2006, 06:07 PM
Na Nog Twee Jaar - by Pronkertjie - 23-09-2006, 07:41 PM
Na Nog Twee Jaar - by Braveheart - 24-09-2006, 03:03 PM
Na Nog Twee Jaar - by Pronkertjie - 24-09-2006, 04:36 PM

Possibly Related Threads...
Thread Author Replies Views Last Post
  Jangar se Afrikaanse draadjie deel twee Pronkertjie 131 48,720 21-10-2006, 10:48 AM
Last Post: oe-la-la
  Twee merkwaardige vangste in die wildtuin Pronkertjie 1 3,926 16-07-2005, 09:00 AM
Last Post: FlyingBok
  Suid-Afrika na Drie Jaar hantam 0 3,885 Less than 1 minute ago
Last Post:

Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)