04-08-2005, 06:16 PM
:am:
Beeld deurloop: Ons moet krokodille van ouderdom trotseer
Ek kuier 'n week of wat gelede by vriendin Annemarie in Johannesburg en ons sit, rûe teen die son, op die breë vensterbank van haar ruim woonkamer.
Dis een van die wintervreugdes in Johannesburg, dié sit in die loom son.
As jy uit die wind kan bly, is Juliemaand se Hoëveldse koue maklik te trotseer.
Ons het mekaar lanklaas gesien en die rede vir die ontmoeting nóú is droef: ek het Gauteng toe gekom om die begrafnisdiens van 'n geliefde gemeenskaplike vriend by te woon en ek bly by Annemarie oor.
Daar's baie om in te haal, en gemaklik in die son, gesels ons ou stukke en kopstukke, soos dit ou vriende betaam.
Eers kom die kinders aan die beurt, en ons deel ons onderlinge kommer en verlange.
Dan die droewe situasie onder hande, en die gemis aan ander vriende uit ons jeug.
En dan, onvermydelik, gesien ons ouderdom, ons gesondheid.
Dié probeer ons altyd so gou moontlik uit die weg te ruim, want dit kan nogal 'n uitgerekte treurmare word waarvoor daar, op die keper, geen oplossing bestaan nie.
Tóé het ek gedink dis nogal snaaks, maar nou weet ek van beter: Jare gelede kla my skoonmoeder, die geliefde Ouma Ella, oor die baie skete van die ouderdom - die rumatiek, die kort asemhaling, die knaende vermoeidheid.
En sy kies die immer-jeugdige Rykie van Reenen om by te kla:
Ek kan die ouderdom nie meer verduur nie, sê sy.
En verdien stellig Rykie se lakonieke vraag: En wat van die alternatief?
Nadat ons klaar ons pad deur al die skete gebaan het, vertel ek die klein verhaal van Ouma Ella se klae en Rykie se respons en ons lag saam, maar met 'n nuwe begrip.
En Annemarie vertel.
Vir haar 70ste verjaardag die vorige jaar, sê sy, neem haar kinders haar Tanzanië toe om die verhuising van die trekbokke te gaan kyk.
Dis iets om te sien, sê sy, die derduisende troppe wild (blouwildebeeste, sebras) wat suidwaarts trek, gedryf deur 'n onweerstaanbare instink wat hulle wegneem uit die droër wordende noorde na groener weivelde.
Maar maklik is dit natuurlik nie. Dis ver, en daar's kleintjies by wat beskerm moet word, en daar's roofdiere, en natuurlik die riviere. En dis juis dáár waar die gids die oop voertuig geparkeer het, langs 'n drif, 'n vlakker plek in die rivier waar die diere moet deur.
Die trop maal en maal langs die water, want nie net is hulle skrikkerig vir die lopende water nie, maar op die walle van die rivier lê daar dosyne krokodille (sy't 26 getel, sê Annemarie), reeds spekvet van al die wildsvleis.
Uiteindelik skraap die leier van die trop al sy moed bymekaar en hy steek die water in.
Die trop vloei agter hom aan en met dié gly die krokodille ook die water in, en net oomblikke later stroom die water rooi.
Maar die leier is oor, en die meeste van die trop, en mettertyd word die water weer stil.
Annemarie lag effens.
Dis maar wat ons leeftyd beteken, sê sy. Ons moet die krokodille van die ouderdom trotseer.
Sy bly 'n oomblik stil: En die gras aan die anderkant gaan beslis soeter wees!
Toe gaan maak sy vir ons rooibostee. Dis glo goed vir die gesondheid.