Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Daar is voels in die Kaap - by rioolplase!
#1


Daar ís voëls in die Kaap - by rioolplase!
Cecile Cilliers

Ek bly lekker in die Kaap, al waai die wind en al is dit bitter warm in die somer en al is dit op die oomblik verskriklik droog.
Maar ek mis die voëls. Ek mis vroegoggend se voëlgesang, die tip-tol se getjommel, die kuifkophoutkapper se wekkertjie en die rooikop se tweemansfluit. Hier is daar nie bome nie - watter boom kan regop staan teen hierdie wind? - en daarom is die voëls min. Ek tel in my omgewing miskien vyf verskillende soorte; in Linden se groot tuin was daar minstens tien keer soveel.
Daarom het ek my aangesluit by 'n voëlklub en Sondagoggend was dit ons eerste uitstappie - na Paarl se voëlreservaat. Wat toe 'n rioolplaas was, die werkinge waarvan ek liewers nie sal beskryf nie.
Maar naas daardie ongure damme (waarop daar meeue en eende dobber - voëls het g'n oordeel nie, 'n hoender is immers 'n dom ding), was daar koel bome langs helder water, groen gras, digte riete en baie voëls.
Die leier van ons bende was 'n fyngebeitelde jong man, rietskraal en taai van die buitelewe en op 'n manier twee-dimensioneel, soos 'n tarentaal twee-dimensioneel voorkom.
Sy voëlkennis is verstommend, en sy vinnige oog 'n belewenis. 'n Trop voëls vlieg hoog verby, en die kenners (en daar was baie van hulle), kyk op en "muisvoëls", sê hulle.
Maar hy kyk verkyker en al op: rooiwangmuisvoël, verklaar hy beslis.
Hier is alles natuurlik Engels, en hy sê dus eintlik red-faced mousebird; ek moet vinnig vertaal om by te hou. En tot my ergernis is hulle (wie's hulle? hoor ek my ma se stem, maar ek weet nie wie hulle is nie) besig om die voëlname te verander. 'n Dikkop, al die jare ook in Engels 'n dikkop, is nou 'n thick-knee - ek bid jou aan!
Die son was bloedig warm, maar in die voëlskuiltes, langs die water, was dit koel en stil. Almal sit rustig, verkyker voor die oë, maar wag ook soms vir uitsluitsel, veral ek. Want die watervoëls wat verbykom is vir my dikwels baie vreemd.
Ek sien vir die eerste keer 'n bloubekeend (Maccoa duck), 'n teeleend met sy pienk snawel (Cape teal), en die grootriethaan met sy lang rooi bek. Ek verwonder my aan die groot troppe witvlerksterretjies wat aan die bymekaarkom is, reg om te trek.
Hulle sal waarskynlik in Pole gaan broei, sê die een wat weet.
Slanghalsvoël, witborsduiker, rietduiker - hulle is almal daar langs en in die water, en terwyl ons kyk, wurg 'n rietduiker 'n groot vis al wriemelende af. (Ultimate sushi, lag die kok onder ons.) In die riete sit tot vier klein kuifkopvisvangers naby mekaar - bruin en blou juweeltjies teen die groen. Ek leer die kuifkopdobbertjie onderskei - hy hou sy kop met die kuifie so effe agteroor, weliswaar 'n veel kleiner weergawe, maar kompleet 'n gompou in die Kalahari!
Ek dwaal alleen af, kry 'n toegegroeide paadjie al langs die water, maar die water onsigbaar agter die digte riet. Daar is min om te sien - 'n tarentaal of twee, en onverwags, 'n wildemakou op pad water toe. Maar dis nie stil nie. 'n Golf van klank spoel deur die riete: ek kan weinig onderskei, ek het nog so baie om te leer, maar verlustig my in die klanke, skril, skerp, gedemp, en onmiskenbaar, die woem, woem van die bleshoenders.
Volgende maand gaan ons in Kirstenbosch roofvoëls kyk!


Reply
#2
Ai Pronks, dankie!
Ek geniet dit so as jy stukkies deur Cecile Cilliers plaas, moet tog nooit ophou nie!

:thumbs:
Reply
#3
Haar stories is sulke lekkerlees goete! Ek stem saam - hou aan daarmee!

Met ons aankoms hier in België 3 jaar gelede was dit een van die dinge wat ons baie gemis het - die vrolike gesels van die voëls. Maar nou het ons ons ore ingestel om die voëls te hoor te midde van die stadslawaai.
Maar dik duiwe is hier baie - lyk soos mini hoenders - seker ook maar dik in die dollers (euros), want hulle kan nie so groei van die skaars mielies wat ons hier kry nie!!!!
Reply
#4
Die titel "Daar is voëls by rioolplase" bly steeds by my....
Die gedagte wat toe by my opkom...
As ons iets moois wil sien, sal ons dit sien, al is dit by 'n rioolplaas!
Soms is ons lewens ook maar soos rioolplase, maar daar is tog ook mooi voëls as ons hulle net wil raaksien, soek .......
Reply
#5
hantam Wrote:Die titel "Daar is voëls by rioolplase" bly steeds by my....
Die gedagte wat toe by my opkom...
As ons iets moois wil sien, sal ons dit sien, al is dit by 'n rioolplaas!
Soms is ons lewens ook maar soos rioolplase, maar daar is tog ook mooi voëls as ons hulle net wil raaksien, soek .......


Liewe Hantam

Hoe waar is dit nie! As jy fyn luister hoor jy hulle nog sing ook Smile
Reply


Possibly Related Threads...
Thread Author Replies Views Last Post
  Is daar in wanorde iets wat ons saamknoop? Pronkertjie 0 3,582 23-04-2005, 06:23 PM
Last Post: Pronkertjie
  Daar's 'n wind wat waai Pronkertjie 4 3,617 22-09-2004, 08:26 AM
Last Post: oe-la-la
  Noorsdoring blom geel in die Oos-Kaap Pronkertjie 0 4,453 Less than 1 minute ago
Last Post:
  Blou dampe en later was daar net niks Pronkertjie 0 4,243 Less than 1 minute ago
Last Post:
  Help tog asseblief! Kan is daar iemand hier wat op Afrikaans kan swem? Aphrodite 0 6,170 Less than 1 minute ago
Last Post:

Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)