03-03-2005, 07:03 AM
Deur Cecile Cilliers
In die Engelsman se agterkop, het 'n vorige geslag dikwels smalend gesê, is daar vlugkans as dinge nie na sy sin verloop nie, want daar is die wete van 'n ander tuiste.
Vir 'n Engelsman is home Engeland.
Vir 'n jonger geslag klink dit waarskynlik vreemd, maar selfs tot in die laat 1950's, toe John as geoloog vir 'n Britse mynmaatskappy gewerk het, was hy (en ek saam met hom) ná vyf jaar diens op drie maande se home leave geregtig en die reiskoste Engeland toe vir die maatskappy se rekening. Van die mynbestuurders, wat feitlik deur die bank Brits was, het hulle kinders ook nie hier laat skoolgaan nie.
Selfs met sodanige imperialis tiese ondertoon het ons die gulde geleentheid nie laat verbygaan nie en drie maande deur Engeland en Europa getoer en is oral rojaal getrakteer. Alleen kon ons lekker oor die home leave lag, maar daarsonder sou ons waarskynlik so 'n reis nooit kon bekostig het nie. Want ten spyte van die groot insette van John se werkgewers, was die toer nogal duur. Veral die verblyf - dit was voordat bed-en-ontbyt oral wagwoorde geword het.
Ek het die Engelse beny wat by familie kon tuisgaan, of selfs in hulle eie huis kon gaan bly .
"Het ons dan geen voorsate of familie meer in Europa oor nie?" het ek by Pa geneul.
"Ons mense kom van die tweede skip ná Jan van Riebeeck," het hy gesê, "wees trots daarop."
En toe, nie sonder leedvermaak nie, bygevoeg: "En daar's nie 'n druppel Ingelse bloed in jou are nie!" ("More's the pity," het 'n Engelsman my getroef toe ek die storie oorvertel.)
Ja'k. Hugenote-nasaat is ek en volgens Pa se berekening 14de geslag Suid-Afrikaner, en die volgende geslag, my kinders, hulle wat na die oupas en oumas genoem is, sit almal in die buiteland. En, vreemde ironie, al hulle kinders praat Engels.
Met die dubbele munt van Max en Dan by die Stellenbosse Woordfees, en Cameron Dugmore aan 't toi-toi buite die hof, wonder ek: Waar, op die keper, lê my lojaliteit?
Luister ek vroeër dié week na 'n jong kunstenaar wat hartstogtelik sing "Mama Afrika, jy wat ons almal se moeder is, jou tyd het gekom . . .".
In watter mate vereenselwig ons ons met sy lied, met hierdie Afrika? Woorde van pres. Mbeki bly maal in my gedagtes: 'n Sakeman uit Nigerië, vertel hy, gee aan hom sy kaartjie waarop sy Nigeriese adres voorkom én sy adres in Parys. Afkeurend sê die president: "To be an African is not to have a second address."
Ons ganse lojaliteit moet by hierdie land, en amper meer as dit, by hierdie kontinent, lê. Daar mag (selfs in ons onuitgesproke verlangens) geen ander heimat wees nie, geen home waarheen ons kan uitwyk nie.
Hierdie land soos hy nou is, hierdie kontinent, moet ons tuiste wees, ons tuiste bly.
Dit vra nogal durf, want ek dink baie van ons het nog 'n tuiste - miskien in eie taal, miskien in Afrikanerskap, miskien in die Westerse kultuur - anders as net in Afrika.
Toe ek dié week in die stad by die Portugese ambassade vir 'n visum gaan aansoek doen, vra die donkerkop vrou met die sagte stem: "Watter waarborge kan jy gee dat jy na hierdie land sal terugkeer?"
Ek het die finansiële waarborge gegee - na die ander het sy nie gevra nie.